Suid-Afrikaners het alle rede om die 100 jaar sedert uniewording op 31 Mei vanjaar te vier. Of die Unie van Suid-Afrika wat op 31 Mei 1910 gebore is in sonde ontvang is of nie, die werklikheid is dat Suid-Afrika op daardie dag ontstaan het, skryf Dave Steward. Die wyse waarop die nuweling verwek is, het sedertdien feitlik elke aspek van ons nasionale geskiedenis beïnvloed. ’n Deeglike begrip van die proses wat gelei het tot die geboorte van die unie kan ons help om latere ontwikkelinge en die huidige te verstaan.
Die idee van die unie is sterk bevorder deur die Britse imperialiste van die tyd. Daar was ’n sterk gevoel dat die Britse kolonies in Suid-Afrika – die Kaapkolonie, Natal, die Oranjerivier-kolonie en die Transvaal-kolonie – moet verenig om ’n nuwe dominium te vorm soortgelyk aan dié in Kanada en Australië.
Die herstel van selfbestuur aan die twee voormalige Boere-republieke in 1907 is gevolg deur vinnige skuiwe in die rigting van uniewording. ’n Nasionale konvensie – wat 33 verteenwoordigers van die vier kolonies ingesluit het – is op 12 Oktober 1908 byeengeroep en het teen 11 Mei 1909 ’n ooreenkoms oor ’n konsepgrondwet bereik.
Dié grondwet – in die vorm van die South Africa Act – is op 20 September 1909 deur die Britse parlement aanvaar. 31 Mei 1910 – die agtste herdenking van die Vrede van Vereeniging – was vasgestel as die geboortedatum vir die nuwe unie. Die besluite wat by die Nasionale Konvensie geneem is en in die 1910-grondwet opgeneem is, het die fondament gelê en die raamwerk geskep vir die volgende 84 jaar van ons geskiedenis.
Die belangrikste was waarskynlik die besluit dat Suid-Afrika ’n unie sou wees waarbinne die parlement die oppergesag sal hê. Die nuwe grondwet het geen eienskappe van ’n federasie besit nie: daar was geen hoogste grondwet; geen werklike verdeling van mag tussen deelstate; en geen hoogste hof om die grondwet te vertolk en gevolglik die uitvoerende gesag te beperk nie. In plaas daarvan was die parlement, en nie die grondwet nie, oppermagtig; mag was nie verdeel tussen deelstate en ’n federale regering nie, maar het uiteindelik gesetel in die parlement; en die howe het, net soos in Brittanje, geen gesag om as uitleggers van die grondwet op te tree nie.
Die merkwaardigste is dat die nuwe grondwet weinig, indien enige, waarborge vir die regte van swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners ingesluit het. Dit het die status quo wat voor uniewording in die vier kolonies bestaan het, bekragtig. In die Transvaal- en die Oranjerivier-kolonie kon net wit mense stem; in Natal kon swart mense wel kwalifiseer om te stem, maar dan onder voorwaardes wat die kiesreg in die praktyk bykans onbekombaar gemaak het. Net in die Kaap was daar ’n betekenisvolle franchise vir swart en bruin mense.
Die teoretiese maatstaf was dat enige man van enige ras wat kon voldoen aan sekere eiendomsvereistes en wat sy naam kon skryf, kon kwalifiseer vir stemreg. Soos Keir Hardie, Skotse sosialisteleier, opgemerk het was die doel van die South Africa Act “om die wit rasse te verenig, stemreg van die gekleurde rasse te weerhou en nie om eenheid te bevorder tussen die rasse van Suid-Afrika nie”. Sy waarneming was korrek: Alles in die nuwe bedeling was daarop gerig om die wit groepe tegemoet te kom en te versoen – insluitend die toekenning van gelyke status aan Nederlands en Engels en die beskerming van wit ekonomiese belange.
Tog vir die daaropvolgende 50 jaar is die Suid-Afrikaanse politiek oorheers deur die voortdurende stryd om oorheersing tussen die twee wit gemeenskappe – die Afrikaner-nasionaliste aan die een kant en wit mense wat ten gunste was van deelname aan die Britse Ryk en die Statebond aan die ander kant. Dié stryd het afsluiting bereik in 1961 met die totstandkoming van die Republiek. Ná 1910 was slegs beperkte aandag gegee aan die posisie van swart, Indiër en bruin Suid-Afrikaners, terwyl die bestaande burgerregte van swart mense en Kleurlinge in die Kaap onverbiddelik uitgehol en uiteindelik afgeskaf is. Maar ná 1961 het die fokus van binnelandse politiek en internasionale aandag onverbiddelik verskuif na die grondwetlike posisie van swart mense.
Die Nasionale Party se reaksie was aanvanklik om te probeer om die geografiese eenheid van 1910 te verdeel deur onafhanklikheid te skenk aan swart tuislande. Transkei, Ciskei, Bophuthatswana en Venda het “onafhanklikheid” aanvaar – maar die oorblywende nasionale deelstate het onwrikbaar geweier om dit te doen. In 1983 het die regering probeer om bruin en Indiër Suid-Afrikaners in ’n nuwe grondwetlike bestel te bring deur middel van ’n driekamerparlement. Die nuwe bedeling is egter verwerp deur die meeste van die veronderstelde begunstigdes en het gelei tot steeds luider oproepe van die UDF en andere vir algemene stemreg. Teen 1986 het die NP begin om die noodsaaklikheid te aanvaar van die akkommodering van die politieke aspirasies van alle Suid-Afrikaners in ’n gesamentlike grondwetlike bestel.
Hierdie ontwikkelinge het uiteindelik uitgeloop op die inisiatiewe wat oudpres. FW de Klerk op 2 Februarie 1990 begin het. Die grondwetlike proses wat daaruit gevloei het, verskil fundamenteel van die Nasionale Konvensie wat gelei het tot die Unie van Suid-Afrika. Die opvallendste is dat dit verteenwoordigers ingesluit het van al Suid-Afrika se gemeenskappe.
Waar die Unie van Suid-Afrika in die lewe geroep en uiteindelik goedgekeur is deur ’n buitelandse mag, Brittanje, was die onderhandelinge wat gelei het tot die vestiging van die nuwe Suid-Afrika heeltemal inheems. Die grondwet wat ontstaan het in 1996 was baie anders as die 1910-grondwet: die grondwet – en nie die parlement nie – was oppermagtig; dit het ’n handves van regte bevat om die fundamentele regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm; en dit het ’n konstitusionele hof daargestel met die mag om te verseker dat alle vertakkinge van die regering hou by die oppergesag van die reg en die bepalings van die handves van regte.
Die belangrikste was dat die nuwe grondwet gelyke regte en gelyke status van alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag, taal of seksuele oriëntasie, erken het. Ons het ’n ver pad gereis sedert 31 Mei 1910. Hoewel ons steeds gekonfronteer word met vele ernstige uitdagings, het ons verhuis na ’n stelsel wat inklusief en gegrond op die oppergesag van die reg is. Nietemin, niks daarvan sou moontlik gewees het – en die geskiedenis van die afgelope 100 jaar sou drasties anders gewees het – as dit nie was dat die Nasionale Konvensie in 1908 ’n ooreenkoms bereik het oor die vereniging van die vier kolonies en die groot verskeidenheid mense wat daarin gelewe het nie. 31 Mei 1910 was die geboortedatum van Suid-Afrika en moet as sulks gevier word.
Source:
http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Eeufees-van-SA-Lank-leef-die-unie-20100527
No comments:
Post a Comment