24 Feb 2010

Madeleine van Biljon


Madeleine van Biljon (81) sterf
2010-02-24 13:19
BEELD-nuus
Nurene Jassiem
Kaapstad. – Die joernalis, kos­kenner en skrywer Madeleine van Biljon (81) is gisteraand oorlede.


Sy het die laaste paar jaar in die Murambi-huis in Wynberg gewoon.


Volgens een van haar susters, die skrywer en resensent Cecile Cilliers, wat die kykNET-program Boeksusters vroeër saam met haar aangebied het, het Van Biljon “maklik gesterf met al haar kinders om haar”.


“Ons was vier kinders en Madeleine was die oudste.


“Sy is die eerste een wat sterf en dit is ’n swaar verlies om so ’n belangrike mens in ons lewens te verloor. Sy was tot op die einde so ’n ‘vibrant’ mens,” het Cilliers gesê.


Volgens een van Van Biljon se dogters, me. Mapula Swanepoel, het haar ma tot die einde nog haar mure bedek met haar jare lange kunstenaarsvriend Robert Hodgins se skilderye.


Swanepoel, ook ’n bekende in koskringe, het haar ma as ’n “absoluut positiewe mens” beskryf.


“Ons was ontsaglik lief vir haar en dit wat ons weet, het ons by haar geleer. My ma het altyd gelag en was ’n fantastiese mens om te kon ken.”


Van Biljon is in Lichtenburg gebore en was onder meer tussen 1983 en 1984 president van die Kaapstadse Persklub.


Sy het jare lank ’n kosrubriek in die Sunday Times behartig.


In 2008 het sy in ’n onderhoud met Die Burger gesê: “As jy weet hoeveel ek al geskryf het in my lewe: miljoene woorde.
Liewe vader! Dis ’n lang loopbaan.”


Sy word ook oorleef deur haar dogter Madeleine Roux en seun Willem van Biljon

No comments:

Post a Comment