29 Aug 2007

Afrikaans vandag...only Afrikaans

Vandag wy ek bietjie aan my moedertaal. Dis gaan sommer net lekker wees om in Afrikaans hier te gesels...dan gaan ek julle bietjie meer vertel oor skole/skoolhou hier in London.

Eerstens sal mens kan se (lees asseblief die kappies en deeltekens in! Ek probeer hulle hier vind, maar net 'n musieknootjie kom op...of my boodskap raak net weg! :)
ja...enige persoon sal dit se van enige vreemde land..."dit is net nie soos ons gewoond is nie"...of..."dit is anders".... veral die kinders se gedrag in die skole. Maar, mens raak dit gewoond en jy leef daarmee saam. Jy begin "deel" word daarvan, jy "blend" in, nie dat jy nou ook soos hulle word nie. Daarmee bedoel ek dat jy dit hanteer en deel daarmee.
Beide ek en my man hou hier skool, hy in die Senior skool (gebruik die benaming vir die deelteken-probleem...) dis nou soos gr8-12 in SA. Ek is Laerskool. Ons geniet dit altwee. Dit was maar 'n rowwe aanpassing in die begin, maar jy pas gou aan en gaan met die stroom. Sy vakgebied is "Design and Technology" en hy is ook nou Departementshoof waar hy is. Ek het baie Aflos gedoen, jy word deur die agente elke dag na 'n ander skool gestuur en so het ek London redelik goed leer ken. Ek sal dit nooit waag om in Johannesburg rond te ry nie, ek wil nie eers naby die plek kom nie! Maar hier in London is dit net baie maklik om jou weg te vind as jy net eers 'n idee het waar is watter area. Jy kan my nou toe oe (deelteken!) aflaai en ek sal binne 5 min my weg vind. Die vervoerstelsel is baie goed, as jy net naby enige stasie is wat jy ken....is dit geen probleem! Ek het nog nooit verdwaal nie, dit moet ek eerlik se (kappie). Daar is somtyds oponthoudheid op die treine, maar dit gebeur nie elke dag nie, maar dit kan 'n groot pyn wees wanneer dit gebeur! Met die bomme wat afgegaan het in Julie 2005 was ek net vroeer (deelteken asb!) daardie oggend by een punt verby....wat 'n verligting!

In die skole self is die kinders se gedrag wissellend, dit hang af in watter area jy is. In sentraal-London is daar maar areas wat nie te "goed" is nie, veral in die omgewing waar ek nou byna twee jaar lank skoolgehou het. Die skole doen baie om kinders se gedrag te verbeter. Die probleem in die skole is dat die kinders kan dit net nie verdra dat daar 'n aflosonnie hulle die dag moet onderrig nie, hulle gedra hulle uiters swak. Hulle gaan soms uit hulle pad uit om hulle ekstra swak te gedra om die dag ondraaglik te maak. My eie klas het kinders gehad wat hulle redelik goed gedra het en op dae wat ek met 'n kursus was en iemand anders dan moes kom klas gee, het van hulle hulle ook maar "anders" gedra. Ek het die swak gedrag gewoonlik opgevolg en hulle se (kappie) dan net vir jou dat hulle nie gehou het van daardie onderwyser nie! Of hulle diep allerhande verskonings uit vir hul swak gedrag....bv die Onnie het hulle nie goed behandel nie....Dit maak mens lam...hulle aanvaar nie die ander wat kom aflos nie, dis 'n pyn. Gelukkig, as jy nie baie op kursus gaan nie, of uit die klas moet wees nie, dan is hulle meer "gekalmeerd"...of soos die Engelse sal se (kappie)..."settled"...
Ek het in baie swak skole gekom, in skole waar die kinders groter en langer as ek is! Ek is 1.7m, dus is ek nie te kort nie...nou vat nou 11jarige kinders waarvoor jy moet opkyk om hulle in die oe te kyk!

Die kurrikulum..... dieselfde as wat ons in Suid-Afrika doen! GEEN verskil. In die Laerskole moet die onnies ALLE vakke gee, daar is nie so 'n ding dat die kinders wissel nie...glad nie....dus, jy gee van Musiek tot Wetenskap...alles...en die Laerskole gaan tot Jaar6 en die kinders is dan almal 11jaar oud wanneer hulle klaar is met Laerskool! O ja, vir die wat nog nie weet nie, die akademiese jaar hier begin in September en eindig in Julie...

Hier is drie termyne...hulle word na die Seisoene vernoem...die eerte is Herfs/Lente/Somer.
Die eerste termyn eindig gewoonlik so 3 dae voor Kersfees! Dan is daar slegs 2 weke vakansie. Dan is April die volgende vakansie. In die middel van elke termyn is daar 'n breuk en dit is een week wat hulle "half term" noem. Dit gee jou so 'n kansie om na jou asem te snak voor jy weer aangaan...

In die Hoerskole (deelteken) kies die kinders vakke aan die einde van Jaar9 vir die volgende 2 jaar. Dan is hulle klaar met GCSE wat soos ons ou standerd 8 is. Dan kies hulle weer vakke vir die volgende twee jaar...dis nou AS hulle aangaan met A-level. Meeste van hulle gaan nie aan nie, dis nogal skokkend. Wiskunde en Wetenskap is verpligtend vir almal tot aan die einde van hulle Jaar11-jaar, dis nou wanneer hulle klaar is met GCSE. GCSE is vir hulle 'n baie groot ding hier in Engeland, dis soos matriek in SA, die kinders kry hul uitslae by die skole en oor die uitslae word daar ook baie in die koerante gese (kappie).

Die kinders in die Laerskool skryf ook 'n gestandaardiseerde eksamen in Jaar6 en dan weer in Jaar9. Hulle het dit vir Jaar2's ook, maar dit lyk my hulle wil wegdoen daarmee. Die uitslae van die toetse is vir die skole baie, baie belangrik. Basies kyk die Plaaslike Departement en almal....daarna en "beoordeel" die skole dan. Kritiseer is seker 'n beter woord. Veral wanneer daar inspeksie is, wat ten minste 1 keer elke 4 jaar moet gebeur....Sommige skole word dan in "Special Measures" gesit indien hulle nie "presteer" nie. Dan kry hulle sommer inspeksie elke termyn deur die Plaaslike Opvoedkundige Departement....of die Plaaslike Streeksowerheid...as mens dit so kan vertaal. Hulle is dan baie streng op daardie skole en in ernstige gevalle sluit hulle summier die skool en begin 'n "nuwe" skool, kry 'n nuwe hoof en personeel en gee die skool ook 'n ander naam! Ja, hulle doen dit! Dan moet jy weet dat die onderwys daar was regtig nou pateties of dat die kinders se gedrag uiters onhanteerbaar geword het, soveel so dat die onnies nie behoorlik kan skoolhou nie.

Ek gaan nou eers 'n breuk vat en sal later julle verder opdateer.

3 comments:

  1. Phew !!! give us a break !! took me hours to translate this !!

    ReplyDelete
  2. Asseblief! Nog Afrikaans!
    Hier is 'n paar alt-kunsies vir jou:
    ê - Alt-136
    ë - Alt-137
    ô = Alt-147
    Hou die alt-sleutel in, tik die syfers op die numeriese sleutelblok en laat dan die alt los.

    ReplyDelete
  3. Hi My kop op 'n blok....
    ek het die Alt-funksies probeer...maar vir 136 kry ek 'n musieknootjie! :)

    ReplyDelete